Geskiedenis   Kanselklede   Muur van Herinnering   Webbediening



Kraggakamma Gemeente is 'n dinamiese gemeente in Sunridgepark, Port Elizabeth. Ons is saam onderweg en onder permanente konstruksie. Ons verwelkom alle mense om saam met ons te groei in Jesus Christus. God se roeping vir ons is om sy fontein van liefde vir die wêreld te wees.

Die gemeente het tans twee eredienste per Sondag wat elkeen 'n unieke spiritualiteit bedien. Aanpasbaarheid by die verskillende style van aanbidding sal in die aansoeker se guns tel.

Die NG gemeente Kraggakamma dateer vanaf Maart 1973. Die gemeente het toe afgestig met 'n lidmaattal van 523. Oor die afgelope 46 jaar het die gemeente gegroei tot 'n huidige lidmaattal van 1337 (1069 belydende lidmate en 268 dooplidmate). Gedurende 1980, met die lidmaattal op 947, is 'n tweede leraar beroep en verwelkom.

Die gemeente sluit die woonbuurte Fernglen, Sunridgepark en Framesby in, rofweg omsluit deur Kaapweg, die Baakensvallei en Samanthaweg. In die beginjare was hierdie buurte feitlik op die grense van die toe vinnig-groeiende weswaartse uitbreiding van Port Elizabeth. Die demografiese aard van die gemeente was dan ook tipies die van 'n stadsrandgebied - gesinne met jong en ouer kinders en van die middel- tot middelhoë inkomstegroep. Die gemeente het deur die jare grootliks hierdie karakter behou. Gesigte het wel gekom en gegaan en dinge het baie verander, maar ons is steeds gemeente van die Here in hierdie stadsgebied.

Ons is 'n gemeente onder konstruksie. Ons gebed en strewe is dat Hy ons elke dag al meer sal vorm en maak na Sy wil. Ons streef na geestelike verdieping. Ons glo dat gesinne vir die Here baie belangrik is. Daarom fokus ons op gesinne. Ons eredienste en kleingroepe is fokuspunte in die gemeente. In die eredienste streef ons daarna om mense met verskillende aanbiddingstyle te laat tuiskom. Die kleingroepe is veilige ruimtes waar die klem op verhoudings en geestelike groei val. Daar word ons regtig boeties en sussies in Christus.

Ons glo die Here se roeping vir ons is: "Ons is God se fontein van liefde" As Geesgevulde mense, maak Hy ons lewens oorvol met Sy liefde wat dan uit ons vloei na alle ander mense. Elkeen van ons is Sy kerk wat elke dag op elke plek waar ons is, fonteine van liefde is. Ons is deel van Sy kerk in Port Elizabeth waarvandaan Sy liefde uitvloei na die res van die wêreld. Ons reik met Sy goeie nuus uit na die wêreld. Op vele gebiede streef ons om mense se nood te verlig.

Gasvryheid is vir ons baie belangrik. Alle mense moet hier welkom voel in 'n veilige ruimte. Ons kermis is ons grootste kuiergeleentheid in die jaar. Ons werk ook daaraan om meer dikwels as gemeente saam te braai onder die bome agter die kerkgebou. Dit is wat families doen.

© 2009-2024 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.