
BESKRYWING: 'n Halfbladwisselende tot immergroen boom tot 20 m hoog.
Bas harig en geelbruin by jong takke maar grysbruin tot donkerbruin en skilfer af by ouer takke en stamme.
Blare enkelvoudig, ligter en fluweelagtig aan onderkant, rand glad of getand naby die punt,
blaarsteel tot 25 mm lank en fluweelagtig.
Blomme aan manlike bome in 3-7 blommige byskerms in oksels van blare, kelk- en kroonblare geelgroen,
digharig, met 10 meeldrade, vroulike blomme alleenstaande in oksels van blare, gelerig
tot groenwit, +- 10 mm in deursnee, manlike en vroulike blomme aan afsonderlike bome.
Vrug 'n ronderige houtagtige doosvrug tot 20 mm in deursnee, met 'n vratagtige oppervlak, spring oop in vyf kleppe.
Hout redelik hard, met 'n roomkleurige spinthout en pienkerige, middelmatig swaar kernhout.
DIAGNOSTIESE KENMERKE: Bas van takke glad en grys; blare met are prominent aan onderkant,
met haarsakkies in oksels van groot are; afsonderlike manlike en vroulike
bome; vrug 'n vratagtige doosvrug wat oopspring om swart sade met 'n
olierige, oranjerooi omhulsel bloot te lê.
BLOMTYD: van Augustus tot Januarie
VRUGVORMING: van Februarie tot Mei
VERSPREIDING: Van Kenia in die noorde tot die Wes-Kaap in die suide.
HABITAT: Immergroen woud, op rotsriwee, in beboste grasveld en langs waterlope.
Bome in woud het groot, dun, gladde blare en die wat in volle son in droë dele
groei is knoesterig, met klein, dik, fluweelagtige blare.
EKONOMIESE WAARDE: Die olieryke arillus van die sade lok baie vrugtevretende voëls soos
geelbekbosduiwe, kaneelduifies, gryskopspegte, Knysna- en bloukuifloeries,
gekroonde en gewone boskraaie, gewone en Heuglin-janfrederike, gewone
waterlaksmans, rooivlerkspreeus, lysters, glasogies en muisvoëls en
daarom is dit moeilik om ryp saad in oop vrugte te kry.
Die larwes stroop soms al die blare van die bome, maar hulle herstel gou en
vorm weer nuwe blare sodra die larwes weg is. Die blare bevat blousuur en word
dus nie deur vee en wild gevreet nie. Die hout van die wildeperske was
vroeër baie gewild vir die maak van meubels en word nog in die Oos-Kaap en
KwaZulu-Natal daarvoor gebruik. Balke en vloerplanke word ook daarvan gemaak.
Die wildeperske kan in kampe geplant word om in die warm somer skadu aan diere te gee
of om as windskerm vir landerye te dien. Dit vorm 'n goeie skaduboom as die
onderste takke verwyder word om die boom 'n skoon reguit stam te gee. Omdat dit lae
temperature en ryp kan weerstaan, is dit ideaal vir koue hoëveldse tuine.
Die wortelstelsel is nie aggressief nie. Die beste boom om voëls te lok, of
met die klwereige rooi sade of met die larwes van die Acraea-skoenlappers.
KWEKING: Word maklik van saad of steggies gekweek. Saai vars saad in kissies gevul met 'n mengsel van
riviersand en kompos (1:1). Bedek met 'n dun lagie fyn sand en hou vogtig. Vars saad ontkiem
gewoonlik na 3 tot 12 weke en lewer 70-80% ontkiemingsukses. Plant die saailinge in
kwekerysakke oor wanneer hulle twee blare het. Plant in oop grond uit wanneer die jong plante
300 mm hoog is. Indien hulle langer in die sakke gehou word, raak die wortels geknel en die
plante sal dan ten minste een seisoen neem voordat hulle nuwe blare vorm.
Die plante groei vinnig, tot 1.3 m per jaar. Die bome sal die eerste keer blom wanneer
hulle twee jaar oud is. Die wildeperske is bestand teen ryp en kan lae temperature en
matige droogtetoestande weerstaan.
Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: NG Kraggakamma se eie tuin
