Wildekastaiing - Calodendrum capense

NGK TERREIN AREA 1 : OOS, LANGS PARKEERPLEKKE


WILDEKASTAIING - Calodendrum capense


BESKRYWING: 'n Immergroen tot bladwisselende boom tot 25 m hoog, met 'n digte ronderige kroon.
Bas van jong takke harig maar glad en lig- tot donkergrys by ouer takke en stamme.
Blare teenoorstaande, enkelvoudig, blink en donkergroen aan bokant maar ligter onder, met 'n gladde rand, syare parallel aan mekaar en byna reghoekig tot hoofaar, are en hoofaar opvallend aan onderkant, blaarskyf met prominente verspreide klierstippels, met 'n skerp sitrusgeur wanneer gekneus.
Blomme in groot (tot 150 mm lank), vertakte trosse aan punte van takke, lig- tot donkerpienk, met 5 kroonblare en 5 kroonblaaragtige staminodiums gestippel met diepmaroen kliere, staminodiums langer as kroonblare, meeldrade net so lank soos kroonblare en geurig.
Vrug 'n 5-lobbige, baie vratagtige, oopspringende doosvrug tot 40 mm in deursnee, spring oop vanaf onderkant, die 5 kliere bly vas aan punt van 'n sentrale kolom, met groot, blink, hoekige sade.
Hout met min verskil tussen spinthout en kernhout, witterig tot liggeel, soms met bruin merke, hard, sterk en middelmatig swaar.

DIAGNOSTIESE KENMERKE: Bas glad en grys; blare met verspreide klierstippels, gekneusde blare met sitrusgeur; blomme pienk met pers kliere op kroonblaaragtige staminokiums; vrug 'n klieragtige 5-lobbige doosvrug wat vanaf agterkant oopspring.

BLOMTYD: wisselvallig maar meestal van Jullie tot Maart.

VRUGVORMING: van Januarie tot Mei.

VERSPREIDING: Van Kenia in die noorde tot die Wes-Kaap in die suide.

HABITAT: Nie tot enige spesifieke habitat beperk nie. Bome in woud het gewoonlik reguit stamme, soms oorlangs gegroef, maar bome in warm droë valleie is klein en knoesterig met donkergrys bas en klein blare en blomme.

EKONOMIESE WAARDE: In sekere gebiede is die hout steeds gewild vir die maak van meubels. Sulke meubels is lig van kleur en middelmatig swaar en kan glad afgewerk word. Dit word ook vir draaiwerk en rakke gebruik. Omdat die hout sterk en buigbaar is, is dit ook geskik vir gereedskaphandvatsels.

ANDER GEBRUIKE: As die fyngemaakte sade gekook word, word olies verkry waarvan seep gemaak kan word.

KWEKING: Maklik om van saad te kweek. Daar is sowat 600 sade per kilogram. Vars saad kan in riviersand in diep saailingkissies gesaai word. Ontkieming vind gewoonlik binne 10 tot 14 dae plaas, met 80-90% sukses, maar is soms baie wisselvallig as die saad oud is. Die boom kan ook met sukses van steggies gekweek word. Maak die steggies van halfryphout en behandel hulle met wortelgroeihormoon. Jong plante plant maklik uit. In warm gebiede met 'n hoë reënval kan die groeitempo tot 850 mm per jaar wees. Bome wat van saad gekweek is, sal eers na ses of sewe jaar blom, die van steggies gekweek na vir jaar. Die bome blom oorvloedig en is daarom opvallend in woude waar die pienk blomme van ver af sigbaar is. Wildekastaiingbome kan temperature so laag soos 5 grade celsius weerstaan. Dit kan in ligte skadu of volle son geplant word, groei die beste in diep grond en moet gereeld water kry. Snyblomme hou lank in water.

Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: NG Kraggakamma se eie tuin

© 2009-2024 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.