
BESKRYWING: Bladwisselende tot halfbladwisselende boom tot 20 m hoog, met 'n digte ronderige kroon.
Bas glad en grys by jong takke, maar word donkerder by ouer takke en stamme, en skilfer af in stukke en
laat dan beskuitkleurige kolle agter.
Blare halfteenoorstaande, soms in kranse van drie, tot 130 x 50 mm, are aan bokant gesonke maar baie
opvallend en gelerig aan onderkant, jong blare liggroen tot gelerig en klewerig, effens harig
aan bokant, met gladde rand, met heldergeel en rooi herfskleure, blaarstaal 2-4 mm lank.
Blomme aan digte, ronderige are in oksels van blare aan nuwe sylote, groenwit tot liggeel, met 'n
ligte soet geur.
Vrug 4-vlerkig en 10-15 mm in deursnee, ligbruin wanneer droog, bly gewoonlik tot die volgende blomseisoen
aan die boom.
Hout met geen ware onderskeid tussen spinthout en kernhout nie, geel, sterk en middelmatig swaar.
DIAGNOSTIESE KENMERKE: Bas glad en grys, skilfer af by ou takke; jong blare effens klewerig,
are gesonke aan onderkant, prominent en gelerig aan onderkant, met geel
en rooi herfskleure; blomme in digte ronderige are; vrug 4-vlerig en
ligbruin; algemeen langs strome.
BLOMTYD: van September tot November.
VRUGVORMING: van Januarie tot Oktober.
VERSPREIDING: Van Zimbabwe in die noorde tot die Oos-Kaap in die suide.
HABITAT: Meestal langs riviere en strome. Soms weg van riviere in beboste grasveld waar die
watertafel hoog genoeg is. Nie tot enige spesifieke soort grond beperk nie.
EKONOMIESE WAARDE: Olifante, kameelperde, njalas en bosbokke vreet die blare en kameelperde
hou ook van die jong takkies en blomme. Bonthoutkappers verwyder en vreet
die saad van groen vrugte. Die hout is gesog as algemene timmerhout op 'n plaas,
en baie sterk balke kan daarvan gemaak word. Die gom wat die stam afskei word vir
die looi van leer gebruik.
Die vaderslandswilg word met sukses as straatboom in verskeie dorpe regoor Suid-Afrika
aangewend. Dit is 'n goeie skaduboom in groter tuine. Die pragtige herfskleure gee
spatsels rooi en pers aan 'n andersins vaal wintertuin. Hierdie boom kan langs strome
en fonteine geplant word om skadu te gee, die waterbron te beskerm en broei-en snuffelplekke
aan watervoëls en visse te verskaf. Reiers en duikers verkies om in die vaderlandswilg nes
te maak. 'n Goeie keuse om langs 'n oprit te plant aangesien die wortelstelsel nie
skade sal aanrig nie.
ANDER GEBRUIKE: Die wortel word as purgeermiddel gebruik, maar 'n oordosis kan die pasiënt se dood
veroorsaak. Die gom het 'n ligte antibiotiese werking en kan gedroog, verpoeier en op
sere gebruik word. Die hout is gewild vir die maak van huishoudelike artikels, veral
houtlepels.
KWEKING: Die saad moet uit die gevleuelde vrugte verwyder en oornag in water geweek word.
Saai die uitgeswelde saad die volgende oggend in plat saailingkissies gevul met 'n mengsel
van riviersand en kompos (5:1). Druk die saad in die grond in totdat dit gelyk met die
oppervlak is en bedek liggies met 'n dun lagie sand. Dit ontkiem gewoonlik binne 7 tot 16 dae,
met 'n ontkiemingsukses van 70-90%. Plant die saailinge in kwekerysakke oor wanneer hulle twee
blare het. Laat hulle 300-500 mm hoog word en plant hulle dan uit. Hulle groei die beste in diep
goed gedreineerde grond met volop water. Die groeitempo is gewoonlik vinnig, 0.7-1.2 m per jaar.
Die boom kan droogte en ryp weerstaan, maar moet die eerste twee of drie winters beskerm word.
Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: NG Kraggakamma se eie tuin
