
BESKRYWING: 'n Immergoen tot halfbladwisselende boom tot 35 m hoog.
Bas donkergrys met diep oorlangse en aaneenlopende groewe by ouer takke en stamme.
Blare met 'n effens gevleuelde ragis wat 3-8 teenoorstaande donkergroen blaartjies dra,
herfsblare geel tot rooierig.
Blomme in kort vertakte hofies, blomme soetgeurig, 5-7 mm in deursnee.
Vrug 'n langwerpige doosvrug met die boonste deel ingekeep en word rooibruin wanneer ryp, spring
oop en stel gevleuelde sade vry.
Hout met 'n fyn grein, spinthout geelbruin en kernhout heuningbruin, hard en swaar,
bevat 'n aromatiese olie met 'n ligte pepergeur wat 'n mens laat nies.
DIAGNOSTIESE KENMERKE: Blare teenoorstaande, ewegeveer met opvallende skewe blaartjies; afsonderlike
manlike en vroulike bome; blomme met vier kroonblare en 'n vlesige skyf; vrug
'n oopspringende tweelobbige doosvrug.
BLOMTYD: van Augustus tot Desember
VRUGVORMING: van Desember tot Februarie
VERSPREIDING: van Tanzanië in die noorde tot die Oos-Kaap in die suide.
HABITAT: Groei in goed gedreineerde sanderige tot klipperige grond in bosveld
en immergroen bergwoud. Plante wat in bosveld groei, is gewoonlik nie hoër as 3 m
nie en die in woud is gewoonlik hoër as 10 m.
EKONOMIESE WAARDE: Word as algemene timmerhout gebruik. Voorheen beskou as een van die beste
houtsoorte vir banke en stoele en vandag weer baie gesog vir meubels.
Balke van hierdie hout wat 200 jaar gelede ingebou is, is steed in gebruik.
Nieshout hou bykans onbepaald in water en is dus ideaal vir bruê en vasmeerplekke
vir bote. Die hout is vroeër by die ton afgekap vir spoorwegdwarslêers.
Vandag word dit verkeerdelik as "geeljarra" deur meubelvervaardigers aangebied.
Dit is steeds gewild by veeboere wat dit vir byna onvernietigbare heiningpale gebruik.
Boere in gebiede met hoë reënval kan 'n hektaar of meer nieshout as 'n langtermynbelegging
aanplant. Die bome kan dan na 30 jaar geoes word. Die hout word al skaarser en so 'n
aanplanting kan finansieel baie lonend wees. Die smal kroon en nieindringende
wortelstelsel maak dit uiters geskik vir 'n klein tuin.
ANDER GEBRUIKE: Snuif wat van die bas en hout gemaak word, word gebruik om hoofpyn en sinusontsteking
te behandel. Vratte by mense en beeste word verwyder deur hars wat van die verhitte
hout versamel word aan die vratte te smeer totdat hulle verdwyn. Stukkies van die hout
word in kaste geplaas om motte en ander insekte af te weer.
KWEKING: Versamel saad net voordat die vrugte oopgaan. Vrugte wat droog geword het, is gewoonlik vol insekte.
Saai die saad in 'n mensel van riviersand en kompos (1:1) en bedek met 'n dun lagie gesifte sand.
Plaas 'n glasplaat oor die saailingkissies om ontkieming te bespoedig. Plant die saailinge in
kwekerysakke of direk in oop grond uit wanneer hulle drie blare het. Saailinge wat in oop grond geplant
word, het baie meer water nodig om te vestig.
'n Boom met 'n niddelmatige tot vinnige groeitempo, 0.4-1 m per jaar, afhangende van die habitat;
dit sal na sowat vyf jaar die eerste keer blom. Dit kan matige ryp weerstaan en is baie bestand teen
droogte. Nieshout is 'n beskermde boom in Suid-Afrika.
Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: NG Kraggakamma se eie tuin
