
BESKRYWING: 'n Immergroen to halfbladwisselende boom wat tot 10 m hoog kan word,
gewoonlik met 'n oop maar effens deurmekaar kroon wat tot 5 m wyd kan sprei. In sekere gebiede geneig om te
klouter, hoofstamme effens hoekig.
Bas glad en grys tot grysbruin.
Blare enkelvoudig en afwisselend, liggroen, dun, glad, met drie prominente are vanaf simmetriese blaarbasis,
met skerp of stomp tande aan blaarrand, punt stomp of uitgerek en slank, blaarsteel tot 13 mm land en glad.
Blomme tot 35 mm in deursnee, gedra in 1-3-blommige trosse teenoor die blare, pienk tot donkermauve,
met geel meeldrade in 'n sentrale massa; kelkblare groen aan buitekant en pienk tot donkermauve binne.
Vrug vierlobbig en vierkantig, tot 25 mm in deursnee, rooibruin, effens vlesig en blink wanneer ryp.
Hout met 'n witterige spinthout en 'n donkerbruin kernhout, hard, met 'n fyn grein en middelmatig swaar.
DIAGNOSTIESE KENMERKE: Bas glad en grysbruin; drie groot are vanaf blaarbasis, blare dun, blomme pienk
tot mauve; vrug vierlobbig.
BLOMTYD: van Oktober tot Januarie.
VRUGVORMING: van Januarie tot Mei.
VERSPREIDING: van Zimbabwe in die noorde tot die Wes-Kaap in die suide.
HABITAT: 'n Verskeidenheid habitats, van dorre karoo en kusduinebos tot immergroen bergwoud.
EKONOMIESE WAARDE: Die blare word deur beeste, bokke en wild soos swartrenosters, kameelperde,
koedoes, njalas en gewone duikers gevreet. Mense hou van die ryp vrugte se soet smaak. In sekere
gebiede waar die suikerinhoud van die vrugte hoog is, word die vrugte versamel om later te gebruik;
gedroogde vrugte word soms in melk gekook - lekkerder as enige melkskommel! Bier word in sekere gebiede
van die ryp vrugte gebrou. Die kruisbessie kan aan die rand van kampe geplant word om bykomende voedsel
aan diere te verskaf, maar ook vir beskutting en kos vir verskeie soorte voëls en insekte. Dit reageer goed
op snoei en slordige groei behoort een keer per jaar verwyder te word om 'n netjiese
vorm te behou. Dit kan baie doeltreffend in 'n stuikbedding gebruik word, met 'n mooi
vertoning van blink blare en mauve blomme.
ANDER GEBRUIKE: Gekneusde bas geweek in warm water word op wonde geplaas. In die Oos-Kaap
en Zimbabwe word assegaai-handvatsels en wandelstokke van die takke gemaak.
KWEKING:Versamel vars saad en saai dit in 'n 5:1-mengsel van riviersand en kompos.
Wees versigtig om die saad nie te diep te plant nie. Ontkieming sukses is gewoonlik sowat 70-80%. Plant
die saailinge in kwekerysakke oor in 'n mengsel van sand, kompos en leem. Hou hulle net een seisoen lank in die
sakke en plant hulle dan in oop grond uit. Saailinge plant maklik uit. Hierdie plant gedy
in volle son of skadu. Dit kan 'n redelike mate van ryp weerstaan, veral as die plante gekweek is van saad
wat op die hoëveld versamel is. Bestand teen droogte. Die groeitempo is vinnig, tot 1.5 m per jaar oor
die eerste drie tot vyf jaar, maar daarna neem dit af tot 1 m per jaar.
Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
