
BESKRYWING: 'n Immergroen boom gewoonlik tot 6 m hoog maar kan 15 m bereik, met 'n ronderige kroon.
Bas van jong takke groen en sagharig, maar donkergrys en grof by ouer takke en stamme.
Blare enkelvoudig, afwisselend, leeragtig, donkergroen en effens blink aan bokant, ligter dofgroen aan
onderkant, punt rond of stomp, rand met ronde of gepunte tande of soms glad, syare opvallend, blaarsteel tot
8 mm lank.
Blomme geelgroen, aan kort stele, gedra in trosse in blaaroksels, met 'n sterk geur.
Vrug 'n vlesige, ovaalvormige tot ronde, rooi tot pers steenvrug, tot 20 mm in deursnee.
Hout met min verskil tusen die spinthout en ligbruin kernhout met 'n fyn grein.
DIAGNOSTIESE KENMERKE: Bas glad en donkergrys; blare donkergroen en leeragtig, syare prominent; blomme
aan kort stele in digte trosse in blaaroksels; vrug 'n rooi tot perserige steenvrug.
BLOMTYD: van Oktober tot Desember
VERSPREIDING: Van Ethiopië in die noorde tot die Wes-Kaap in die suide maar ook op
Madagaskar, die Comore-eilande en die Seychelle.
EKONOMIESE WAARDE: Die bas en blare word deur swartrenosters gevreet en die blare deur vee en wild
soos koedoes, blouwildebeeste, njalas, rooibokke, gewone en rooiduikers. Beeste en bokke gee voorkeur
aan die jong blare en vreet selde die volwasse blare. Die ryp vrugte aan die boom maar veral die op die
grond word deur koedoes, njalas, bosvarke, vlakvarke, gewone duikers, rooiduikers, bobbejane, samango-ape
en blouape gevreet. Die ryp vrugte is gewild by bloukuifloeries, groot papegaaie, papegaaiduiwe, swartoogtiptolle en
bosveldfisante. Die bas word vir die looi van leer gebruik en verleen 'n kenmerkende ligbruin kleur daaraan.
Die hout word soms vir houtsneewerk, klein huishoudelike artikels en vuurmaakhout gebruik. Die rooi tot
perserige ryp vrugte is eetbaar, met 'n effens vrank smaak, maar bitter indien hulle nog nie heeltemal ryp is nie.
Hierdie boom is 'n aanwins op enige wildplaas en kan langs stroomoewers en op termiethope geplant word.
Die koeboebessie kan in oop plekke tussen struike gebruik word waar die vrugte kleur sal verleen.
Op sy eie of in 'n klein groepie is dit 'n pragtige enkelsierplant, veral wanneer dit oortrek is met
vrugte wat mense, voëls en ander diere sal lok. Noodsaaklik vir die tuin van 'n voëlliefhebber. Dit
groei goed in 'n houer en kan maklik gesnoei word. Die wortelstelsel is glad nie aggressief nie.
ANDER GEBRUIKE: 'n Aftreksel van die bas van die wortel word gebruik vir die behandeling van diarree en
buikloop en word soms as lawement gebruik.
KWEKING: Verwyder enige vrugvleis van die saad aangesien dit groei sal inhibeer. Saai die saad in kissies gevul
met 'n mengsel van riviersand en kompos (1:1) en hou vogtig op 'n warm plek. Sade neem sowat twee tot drie weke
om te ontkiem, maar ontkieming is wisselvallig. Plant die saailinge in kwekerysakke oor in 'n mengsel van riviersand,
leem en kompos (1:2:1). Hou hulle 'n maand of twee in ligte skadu en stel hulle dan geleidelik bloot aan volle son.
Die jong bome kan na een seisoen in oop grond uitgeplant word. Die groeitempo is middelmatig, 400-500 mm per jaar.
Dit kan ligte ryp verdra en is baie bestand teen droogte.
Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: NG Kraggakamma se eie tuin
