
BESKRYWING: 'n Halfbladwisselende tot immergroen boom tot 13 m hoog, met 'n digte geronde kroon.
Bas van jong takkies grysbruin met prominente kurkstippels (lentiselle), maar grys met vlak
bruinerige groewe by ouer takke en stamme, baie sterk en kan in lang repe verwyder word.
Blare enkelvoudig, in teenoorstaande pare en saamgedronge by punte van takkies, hoofaar opvallend, are
liggroen en prominent aan onderkant, rand glad, blaarsteel to 5 mm lank.
Blomme in digte sferiese eindstandige hofies tot 50 mm in deursnee, met 2-6 skildvormige skutblare
aan basis van elke hofie, blomme pienk tot mauve, met 'n harige buisvormige kroon tot 30 mm lank,
die kelk vorm die kroonblaaragtige lobbe, met 10 meeldrade van verskillende lengtes ingeplant in die buis.
Vrug 'n bruin tot swarterige neutjie aan die basis van die blywende kelk.
DIAGNOSTIESE KENMERKE: Bas grys en skeur in lang repe (kenmerk van die familie);
blare in teenoorstaande pare, saamgedronge by punte van takkies; blomme in digte sferiese hofies,
met 2-6 skildagtige skutblare aan basis, kroon afwesig maar kelk vorm die blombuis, pienk tot mauve,
meeldrade 10 en van verskillende lengtes in die blombuis; vrug 'n neutjie aan basis van blywende kelk.
BLOMTYD: van November tot Februarie
VERSPREIDING: Van Zimbabwe in die noorde tot die Oos-Kaap in die suide.
HABITAT: Immergroen rivier- en struikwoud en teen klipperige berghange.
EKONOMIESE WAARDE: Die kannabas is waarskynlik een van die suksesvolste en aantreklikste inheemse
bome vir die tuin. Dit maak nie saak waar dit geplant word nie - wanneer dit blom, is dit altyd 'n fokuspunt!
Afgesnyde takke met blomme hou goed in water. Dit is 'n ideale houerplant vir 'n patio. Die kannabas word sedert
1757 in Europa gekweek en is vandag wêreldwyd in aankweking. Dit reageer goed op snoei en kan opgelei
word om 'n hoofstamboom te vorm. Dit kan sonder probleme naby geboue en plaveisel geplant word.
ANDER GEBRUIKE: Die bas is baie sterk en uitstekende tou kan daarvan gemaak word.
Die meeste kannabasbome naby nedersettings word vernietig deur mense wat die bas verwyder vir toue
om bondels vuurmaakhout vas te bind.
KWEKING: Die kannabas groei maklik van vars saad wat versamel en in saailingkissies in saailingrond
gesaai kan word. Moenie die saad te diep saai nie. Die kannabas kan ook van sylote gekweek word. Die lote
kan uitgegrawe en weer elders geplant word. Stingelsteggies kan ook vir kweking gebruik word.
Maak die steggies 40-60 mm lank en 5-10 mm in deursnee. Behandel hulle met 'n hormoonpoeier wat wortelgroei
stimuleer en plant hulle in riviersand wat goed dreineer. Die kannabas groei vinnig, 0.8-1 m per jaar, en
blom vanaf die tweede jaar. Dit kan matige ryp weerstaan maar het redelik baie water nodig.
Uit: Benut ons Inheemse Bome - deur Fanie & Julye-Ann Venter
Foto's: NG Kraggakamma se eie tuin
