Seniorkamp 22-24 Februarie 2013


Senior Jeugkamp - Kampverslag

Vrydag 22/02/2013
Ons het mooi op tyd van die saal vertrek en die pad na 'van Stadensmond' toe gevat. Vir beter weer kon ons nie gevra het nie. Dit was ongelooflik om Vrydagmiddag die blou lug afgeëts teen die diep, donkerblou see te sien wat in skrille kontras met die spierwit sand gestaan het. Daar aangekom het ons afgepak en kamers begin soek. Nadat die klank afgelaai en opgestel was, was dit tyd vir aandete.

Na ete het ons begin met 'n ysbrekersessie. Ons moes 'n maat kry wat ook jou gebedsmaat vir die loop van die kamp geraak het. Dan jy moes jy uitvind wat sy/haar naam is, waarvan hulle hou, waarvan hulle nie hou nie en 'n geheim van hulle. Toe het ons 'knights' gespeel. So het ons soos wat die prentjies op die skerm vir ons aangedui het jou maat op jou knie laat sit terwyl jy hurk, of jou maat op jou rug laat spring het, omdat jy die ridder se perd is, of hom/haar in jou arms gehou het soos 'n skinkbord. Dit het almal laat rondskarrel, lag en almal se personal space laat verklein.

Daarna het jy teenoor jou maat gesit en moes ons met hulle gesels sonder om ons hande te gebruik of ons monde. Ons moes net ons oë gebruik. Die doel was dat ons dit vir 2min moes gedoen het. Aanvanklik kon baie dit nie eers vir 10 sekondes regkry sonder dat een of altwee begin giggel het nie. Dit was nogal 'n ervaring gewees.

Die hele naweek het ons spandeer om die ouens en meisies te bemagtig om die evangelie te deel. Ek gaankortliks van die inligting uitlig wat baie interessant was:

Die fokusteks vir die naweek was; Matt 12:34b - Wat die hart van vol is loop die mond van oor.

INLEIDENDE SESSIE
Is jy reg om dood te gaan?
As jy reg is om dood te gaan, wat doen jy daaromtrent om seker te maak jou maat is ook reg? Hulle is gewys hoe die evangelie gedeel kan word volgens die 5 vingers van jou hand. Daarna het ons afgesluit met gebedsmaats.

SATERDAG - 23/02/2013
Bybelstudie uit - Rom 1 :16
Ek skaam my nie om die evangelie te verkondig nie. Die evangelie is die krag van God tot die redding van die wêreld.
As almal in die wêreld besig is om dood te gaan aan 'n epidemie en jy ontdek 'n sak vol medisyne wat mense kan gesond te maak. Gaan jy dit verkoop aan jou vriende? Gaan jy dit vir jousel hou. Nee, jy gaan dit uitdeel. Dieselfde met die evangelie.

Ontbyt

SESSIES
Ons het toe 'n voorbeeld gesien van wat 'n geloofsgesprek is.
Die eerste deel van die geloofsgesprek is - bou 'n vertrouensband. Baie praktiese beginsels. Beginsels wat ook gebruik kan word in alledaagse verhoudings.

'n Aanhaling wat uitgestaan het is die volgende van Christopher Wright - Sending is om uit te vind waar die Heilige Gees werk en sy vennoot te word.

Ons het toe die storie gehoor van 'n predikant in 'n gemeente in Engeland, wat deur een van sy lidmate vertel is van hoe 'n eienaardige mannetjie, met grys hare hom voorgekeer het by 'n winkel in George St in Sydney Australië. Toe het hy met nog mense in aanraking gekom wat hom vertel van die mannetjie wat hulle gevra het dat as hulle vanaand sou sterf - of hulle reg is om hemel toe te gaan? Hy het immers toe al 16 sulke mense ontmoet. Toe hy op 'n stadium in Sydney was met 'n besoek het hy besluit om hierdie man te gaan soek. Hy het die winkel opgespoor, maar hulle het vir hom gesê dat die man in 'n hospice is. Die prediker het toe die man gaan besoek. Toe hy hom vertel van al die mense wat 'n verandering in hulle lewens gemaak het as gevolg van hulle ontmoeting met hom het hy begin huil. Die man sê toe dat hy vir 22 jaar hierdie werk wat hy as 'n roeping beskou het gedoen het. Hierdie was die eerste keer wat iemand terugkom na hom toe en vir hom hierdie goeie nuus gebring het. Sal ek en jy die deursettingsvermoë he om ten spyte van positiewe terugvoer steeds aan te hou om die evangelie te deel?

Ons moet eintlik van die evangelie praat as die 'Gospil' - die medisyne van die lewe. Ons moet uitfigure of mense die medisyne van die lewe nodig het.

Kan jy 'n ontmoeting met 'n vragmotor teen 120km/h en dieselfde wees? Hoeveel te meer kan jy 'n ontmoeting met die almagtige God hê, die skepper van die heelal, die liefdevolle God en dan sê dat jy na daardie ontmoeting dieselfde sal wees?

SONDAG - 24/02/2013
Hoe kan ons verduidelik wat dit behels om te 'getuig'. Maklik, asem in en hou dit in. Jy kan nie net inneem en inneem en inhou en dit nie uitgee nie. So ook met die evangelie.

Sondag middag teen 12:40 was ons weer terug by die kerksaal.

Dit was 'n baie geseënde naweek en die kinders het dit terdeë geniet. Daar was genoeg tyd om saam met vriende of alleen saam met God te spandeer en hulle het met iets prakties by die huis teruggekom. Dit was werklik 'n plesier om hierdie groep jongmense op hierdie kamp te neem. My gebed is dat julle die geleenthede sal kry om die evangelie te deel en dat julle die vrymoedigheid sal hê om dit aan te gryp. Julle is die lig vir die wêreld en julle kan elkeen 'n verskil maak.



   

   

   

   

   

   

 





† Na bo †
© 2009-2019 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.