Lizette Murray

Hartseer... Humor... Hoop

Op 14 September het die Kraggakamma-dames die deure oopgegooi vir 200 gaste wat graag na Lizette Murray wou kom luister. Min het die gaste geweet wat hulle na die tyd alles sou saamneem huis toe.

ViA en Dameskring se spanpoging het verseker dat alles vlot verloop. Die besture het maande lank beplan, gepeins en hard gewerk om alles tot die beste van hulle vermoë te doen.

Gaste is begroet met 'n kaleidoskoop van kleure, glimlaggende gasvroue en vriendelike uitstallers. Almal het 'n plekkie gekry by die keurig gedekte tafels waarna daar met Skriflesing en gebed geopen is. Die maak van lap-rose was die ysbreker waarmee Roenel van Rooyen almal gou-gou tuis laat voel het. 'n Verskeidenheid pryse, geskenk deur die uitstallers en ander organisasies, is uitgedeel en met groot dank ontvang.

Lizette Murray se praatjie was 'n ware inspirasie vir almal teenwoordig. 'n Gebore skrywer, kon sy op haar unieke, rustige manier staaltjies uit haar en haar gesin se lewe vertel en so die hartseer van 'n kind verloor verbind met die humor van 5 seuns se grootmaak. Die reaksie het gewissel van lekker saamlag tot trane afvee. Heelwat dames kon kop-knik toe Lizette ons deur die rouproses van haar Henry-kind se dood neem. Sy het die helende krag van geloof in God, en hoop vir die toekoms beklemtoon.

Na Lizette se praatjie is daar gesmul aan die heerlike eetgoed en lekker tee en koffie, waarna Marelize en Lillian ons vermaak het met 'n keurspel nostalgiese liedjies wat die hartsnare geroer het.

As ek terug kyk na Saterdag, is dit met 'n gevoel van Hoop. 200 dames is huis toe met geskenkies, 'n positiewe boodskap, 'n heerlike smaak in die mond, genoeg gesels en kuier en 'n lag in die hart.

Ons kon saamstap na die punt waar Hoop die hartseer verbysteek, die punt waar Hoop en Humor en Geloof seëvier.

[Ingestuur deur Francisca Keyter]

 

     

     

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 





† Na Bo †

© 2009-2019 NG Kerk Kraggakamma. Alle regte voorbehou.